Melktert is só Afrikaans soos rooi vellies en langarmsokkies.
As jy Afrkaans is, het jy daarmee grootgeword.
En vandag word daar sommer ‘n dag aan die liewe melktert opgedra. Bemarkingsfoefie?
Dalk, maar dit het my aan my verhouding met die stukkie erfenis laat dink …
[column col=”1/2″]
1. Yskas of gebak?
Melktert kan hoofsaaklik op twee maniere geskep word, gebak of die yskasweergawe. Hierdie brokkie inligting kan jou baie slim laat klink wanneer jy jou eerste damestee bywoon en jy nog nooit jou eie melktert voorberei het nie.
2. Die gekoopte melktert
Die gekoopte melktert is in die tradisionele vrou se oë sonde. Die meeste van ons sal nie hardop bely dat ons al op die laaste nippertjie op ‘n Sondagoggend ‘n melktert by ‘n tuisnywerheid gekoop het nie.
3. Die kerkbasaar se melktert
Afrikaanse mense hou van basaar hou. Tombola, pannekoek en die poedingtafel is ‘n moet. Dit kan wees dat die basaar elke keer op die warmste dag van die jaar gehou word, maar ongelukkig is die kerbasaars se melktert nog elke keer net té loperig.
4. Die Engelse-tannie se melktert
Hierdie “fabriekmelktert” steek ongelukkig nooit kers op by die Kook en Geniet se melkterte nie. Die jellieagtige tert moet liefs vinnig met ‘n koppie tee afgesluk word.
5. My ma se melktert
My ma se melktert bly die lekkerste en bly tydlose trooskos. Dit is die tipe melktert waar die tweede sny nog lekkerder proe! Haar resep is nie ‘n geheim nie en sy gee dit maklik as jy daarvoor vra. Maar om die kuns van haar melktert te vervolmaak lê waarskynlik in die liefde wat daarin gaan wanneer sy dit bak.
6. Die perfekte resep
Melktertrespete kan versamel word soos met enige skat. My vriendin belowe nou al twee jaar om haar “nuwe” melktertresep te bak. Noem ‘n bekende kookboek se melktertresep en iemand sal vir jou sê hoekom ‘n sekere webblad se resep weer beter gaan werk.
Vandag is nasionale melktertdag.
Met wie sal jy jou melktert deel?
[/column]