Karnaval

Vandag deel ons ‘n bietjie agtergrond tot die voorgeskrewe gedig “Die Karnaval” deur ID Du Plessis. Hierdie gedig is in die Graad 10 Woema onder die “Gedigte Afdeling”.

Gebruik die inligting hieronder as inleiding en voorbereiding vir jou Graad 10’s voordat jy die gedig behandel.

Moenie aanneem dat al jou leerders die ryk geskiedenis van die Kaapse Klopse ken  nie – ons het self ‘n paar nuwe feite geleer!

Begin jou les deur byvoorbeeld die volgende vrae te vrae:

  • Wat is die Kaapse Klopse se Engelse naam?
  • Hoekom dink julle vier die Kaapse Klopse elke jaar fees?
  • Wie het al die Kaapse Klopse in lewende lywe gesien?

 

Pas nou die volgende stuk by jou les aan:

Tradisioneel is die Kaapse Klopse die belangrikste gebeurtenis vir die bruin gemeenskap van Kaapstad (van wie die meeste afstam van die slawe wat in die 17de en die 18de eeu deur die Hollanders met skepe na die Kaap gebring is).

Oor slawerny het wyle Jakes Gerwel gesê om slaaf te wees, is om die mees letterlike en uiterste teenstelling van vryheid te beleef. Gegewe die uiterste wreedheid van slawerny – die daaglikse slae met swepe, die marteling en teregstellings, die minagting en verontmensliking – was dit te verstane dat die einde van slawerny met sentimentele uitbundigheid gevier is.

Nuwejaar was dus vir die slawe ’n tyd om te reflekteer oor die jaar wat verby is, maar ook ’n tyd om moed en hoop bymekaar te skraap vir die jaar wat voorlê. En in die woorde van Adam Small ken die meeste Kaapse bruin mense net een manier om fees te vier en dit is: “Kô lat ons sing.” Die satiriese liedjies (ook bekend as ghoemaliedjies) en die Kaapse moppies (komiese liedjies) vorm ’n baie belangrike deel van hierdie ritueel. Die liedjies gee ons ’n unieke blik op die gedagtes en gevoelens van die Kaapse bruin gemeenskap en besit almal historiese waarde.

Waarskynlik die bekendste klopseliedjie is “Daar Kom die Alibama”, met die woorde “nooi, nooi, my rietkooi, nooi”. Eintlik is dit “Alabama”, maar in die Kaapse volksmond is dit omvorm.

Toe die skip Die Alibama in 1864 die Kaap aangedoen het, het ’n groot skare mense by Vlaeberg vergader om die skip welkom te heet. “Kyk, dáár kom die Alibama!” het iemand uitgeroep en spontaan begin sing. Die skip sou volgens oorlewing ook ’n Amerikaanse sanggroep, die Christy’s Ministrels, aan boord gehad het. Die slawe aan die Kaap was onmiddellik aangegryp deur die groep se sang en dansoptredes en het dit dadelik begin naboots. Dit het tot die ontstaan van die klopse aanleiding gegee.
Nog ’n gewilde liedjie is “Dis ’n Nuwe Jaar, Ons Is Deurmekaar”. Dit verwys na die gebruik dat die slawe een dag in die jaar af gehad het. Op Eerste Nuwejaar moes die slawe soos gewoonlik hul meesters bedien. Maar op Tweede Nuwejaar kon hulle ’n bietjie ontspan en sosiaal verkeer. Om hierdie rede is die Klopse-karnaval tradisioneel op Tweede Nuwejaar gehou.Die liedjie “Januarie, Februarie, Maart . . .” word dikwels gesing as ’n subteks van “Daar Kom die Alibama”. Die lirieke verwys na die gebruik om slawe in te voer. Elke maand is ’n groep slawe ingevoer, baie van hulle met vanne wat die Hollanders nie kon uitspreek nie. Almal op die Januarie-skip het die van Januarie gekry, en dié op die Februarie-skip is na Februarie herdoop, ensovoorts. Mense wat dus geensins familie was van mekaar nie, is oornag met die trek van ’n potloodstreep familie “gemaak”.

Bron: Die Burger, 2 Februarie 2014

 

Indien daar genoeg tyd is, laai gerus hierdie gratis addisionele aantekeninge oor “Die Karnaval” af.