Het jy geweet lees het baie voordele?
Lees is nie net lekker nie, maar wetenskaplike navorsing het ook bewys dit kan jou meer empaties maak. Deur te lees, leer jy hoe om in ander mense (karakters) se skoene te staan.
As jy al deur kinderboeke geblaai het, weet jy ook hoe boeke jou verbeelding kan prikkel!
Lees hou soveel voordele en nog meer in. Daarom is dit die moeite werd om moeite te doen om jou leerders te help om maklik te lees. Hier is 10 wenke:
- Lees die teks meer as een keer deur.
Lees die teks rustig deur. Kry ‘n gevoel waaroor die teks gaan. Lees die teks ‘n tweede keer deur. Ontleed nou die teks in fyner detail. Vra jou leerders om die woorde te onderstreep wat hulle nie verstaan nie. Hou nou die woordeboeke naby. Voor jou klas onbekende woorde opsoek, vra leerders om te “raai” wat die woorde beteken. Kyk vir leidrade in die res van die paragraaf. Wanneer julle die teks vir die derde keer lees, sit julle die legkaartstukke saam. Die nuwe inligting help om nou meer sin te maak.
- Gebruik leidrade uit die konteks van die teks.
Lees jy ‘n koerantartikel, gedig of dialoog? Kennis van die tipe teks wat jy lees, kan leidrade gee wanneer jy lees. Byvoorbeeld:
- Watter deel van die teks is belangrik? Waarop moet daar gefokus word?
- Die voorspelling van die definisies van woorde
- Lag!
Humoristiese teks maak lees lekker. Dit help ook dat lesers gemaklik en gewillig is om nuwe woorde te leer.
- Lees hardop.
Vra jou klas om woorde hardop te lees. Só kan jy agterkom waar woorde verkeerd gelees word. Jou leerders kry ook ‘n kans om die teks te hoor.
- Lees in groepe.
Soms is leerders skaam. Kleiner groepe maak dit dan makliker om selfvertroue op te bou.
- Lees ʼn verskeidenheid genres.
Deur jou leerders aan ‘n verskeidenheid tipes tekste bloot te stel, kan hul besluit in watter teks hul die meeste belangstel.
- Maak lees pret.
Gebruik verskillende stemme wanneer jy vir jou klas voorlees. Kry twee leerders om dialoë “op te voer”. Lees buite onder ‘n boom in plaas van in die klas.
- Motiveer jou klas.
Leerders lees dalk nie almal ewe vinnig nie, maar aanhouer wen! Jou rol as onderwyser sluit in om jou leerders aan te moedig.
- Stel belang.
Vra vrae oor die teks na elke paragraaf en maak seker jou hele klas verstaan wat sopas gelees was.
- Wissel jou tekste
Lees maklike tekste, maar ook meer uitdagende tekste.
Het jy geweet?